| Chapter 16 |
1 | Maar Job het geantwoord en gesê:
|
2 | Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.
|
3 | Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord?
|
4 | Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud;
|
5 | ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring!
|
6 | As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou -- watter verligting bring dit my?
|
7 | Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes.
|
8 | En U het my gegryp -- 'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.
|
9 | Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.
|
10 | Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.
|
11 | God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.
|
12 | Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.
|
13 | Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.
|
14 | Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held.
|
15 | 'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.
|
16 | My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee;
|
17 | alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.
|
18 | o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.
|
19 | Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.
|
20 | My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God --
|
21 | dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste.
|
22 | Want maar min jare kom -- dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.
|