| Chapter 33 |
1 | o Regverdiges, jubel in die HERE! 'n Loflied betaam die opregtes.
|
2 | Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.
|
3 | Sing tot sy eer 'n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.
|
4 | Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou.
|
5 | Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE.
|
6 | Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
|
7 | Hy versamel die waters van die see soos 'n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers.
|
8 | Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees;
|
9 | want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.
|
10 | Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.
|
11 | Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.
|
12 | Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.
|
13 | Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.
|
14 | Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,
|
15 | Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.
|
16 | 'n Koning word nie verlos deur 'n groot leër, 'n held nie gered deur groot krag nie.
|
17 | Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.
|
18 | Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag;
|
19 | om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.
|
20 | Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild;
|
21 | want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.
|
22 | Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!
|