| Chapter 42 |
1 | Vir die musiekleier. 'n Onderwysing van die kinders van Korag.
|
2 | Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!
|
3 | My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?
|
4 | My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
|
5 | Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof -- 'n feesvierende menigte!
|
6 | Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof -- die verlossing van sy aangesig!
|
7 | o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af.
|
8 | Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.
|
9 | Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, 'n gebed tot die God van my lewe.
|
10 | Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?
|
11 | Met 'n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God? [ (Psalms 42:12) Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof -- die verlossing van my aangesig en my God! ]
|