| Chapter 49 |
1 | Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
|
2 | Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld,
|
3 | geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm!
|
4 | My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand.
|
5 | Ek sal my oor neig tot 'n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter.
|
6 | Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring --
|
7 | die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom?
|
8 | Niemand kan ooit 'n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie
|
9 |
|
10 | dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.
|
11 | Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na.
|
12 | Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name.
|
13 | Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan.
|
14 | Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde 'n behae het. Sela.
|
15 | Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre ; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.
|
16 | Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela.
|
17 | Wees nie bevrees as 'n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie;
|
18 | want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie.
|
19 | Al ag hy homself gelukkig in sy lewe -- en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen --
|
20 | tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie. [ (Psalms 49:21) Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan. ]
|