| Chapter 86 |
1 | 'n Gebed van Dawid. HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.
|
2 | Bewaar my siel, want 'n gunsgenoot is ek; U, my God, verlos u kneg wat op U vertrou.
|
3 | Wees my genadig, o Here, want ek roep U aan die hele dag deur.
|
4 | Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op.
|
5 | Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.
|
6 | HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge.
|
7 | In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my.
|
8 | Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.
|
9 | Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer;
|
10 | want U is groot en doen wonders, U alleen is God.
|
11 | Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.
|
12 | Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer;
|
13 | want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.
|
14 | o God, vermeteles het teen my opgestaan, en 'n bende tiranne soek my lewe; en hulle stel U nie voor hul oë nie.
|
15 | Maar U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.
|
16 | Wend U tot my en wees my genadig; gee u sterkte aan u kneg en verlos die seun van u diensmaagd.
|
17 | Doen aan my 'n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o HERE, my gehelp en getroos het.
|