| Chapter 103 |
1 | 'n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
|
2 | Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
|
3 | Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
|
4 | wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
|
5 | wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos die van 'n arend.
|
6 | Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
|
7 | Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
|
8 | Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
|
9 | Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
|
10 | Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
|
11 | Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
|
12 | So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
|
13 | Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.
|
14 | Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
|
15 | Die mens -- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.
|
16 | As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
|
17 | Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
|
18 | vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om die te doen.
|
19 | Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
|
20 | Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
|
21 | Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
|
22 | Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!
|