| Chapter 105 |
1 | Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
|
2 | Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
|
3 | Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.
|
4 | Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
|
5 | Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
|
6 | o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
|
7 | Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
|
8 | Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte --
|
9 | die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
|
10 | wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
|
11 | met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
|
12 | Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
|
13 | en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
|
14 | het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
|
15 | Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
|
16 | En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek.
|
17 | Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
|
18 | Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom,
|
19 | tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het.
|
20 | Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat.
|
21 | Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;
|
22 | om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
|
23 | Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.
|
24 | En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.
|
25 | Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
|
26 | Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.
|
27 | Di het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.
|
28 | Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.
|
29 | Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.
|
30 | Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.
|
31 | Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.
|
32 | Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.
|
33 | En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.
|
34 | Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,
|
35 | wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.
|
36 | Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.
|
37 | Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
|
38 | Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.
|
39 | Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.
|
40 | Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.
|
41 | Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke -- 'n rivier!
|
42 | Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.
|
43 | En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.
|
44 | En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
|
45 | dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!
|