| Chapter 107 |
1 | Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
|
2 | Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
|
3 | en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
|
4 | Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
|
5 | Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
|
6 | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
|
7 | En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.
|
8 | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
|
9 | want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
|
10 | Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters --
|
11 | omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
|
12 | het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
|
13 | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
|
14 | Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
|
15 | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
|
16 | want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
|
17 | Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is --
|
18 | hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
|
19 | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
|
20 | Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
|
21 | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
|
22 | en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
|
23 | Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters --
|
24 | hulle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
|
25 | Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
|
26 | Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes -- hulle siel het vergaan van wee.
|
27 | Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
|
28 | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
|
29 | Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
|
30 | Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
|
31 | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
|
32 | En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
|
33 | Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,
|
34 | vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
|
35 | Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
|
36 | en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.
|
37 | En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
|
38 | En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
|
39 | Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer --
|
40 | Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad --
|
41 | Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
|
42 | Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
|
43 | Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.
|