| Chapter 2 |
1 | Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môre lig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.
|
2 | Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.
|
3 | Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal 'n tyd van onheil wees!
|
4 | In die dag sal hulle 'n spotlied oor julle aanhef en 'n klaaglied sing: Dit is gedaan -- sal hulle sê -- ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit.
|
5 | Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in 'n erfdeel in die vergadering van die HERE nie.
|
6 | Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As 'n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!
|
7 | Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die HERE dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?
|
8 | Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog.
|
9 | Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid.
|
10 | Staan op en gaan heen! Want nie hir is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, 'n onherstelbare verwoesting.
|
11 | As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank -- dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees!
|
12 | Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense.
|
13 | Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan.
|