| Chapter 37 |
1 | Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.
|
2 | Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.
|
3 | Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.
|
4 | Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.
|
5 | God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.
|
6 | Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns.
|
7 | Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het.
|
8 | Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke.
|
9 | Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue.
|
10 | Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.
|
11 | Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk;
|
12 | en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond:
|
13 | of tot 'n tugroede, of tot nut van sy aarde, of tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.
|
14 | Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.
|
15 | Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker?
|
16 | Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis?
|
17 | U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind --
|
18 | kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël?
|
19 | Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie.
|
20 | Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word?
|
21 | En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie.
|
22 | Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.
|
23 | Die Almagtige -- ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.
|
24 | Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.
|