| Chapter 6 |
1 | My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
|
2 | verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
|
3 | doen dan dit, my seun, om jouself te red -- want jy het in die hand van jou naaste geraak -- gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
|
4 | gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
|
5 | red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
|
6 | Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
|
7 | Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
|
8 | maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
|
9 | Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
|
10 | Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
|
11 | So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
|
12 | 'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
|
13 | wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
|
14 | in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
|
15 | Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
|
16 | Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
|
17 | trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
|
18 | 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
|
19 | een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
|
20 | Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
|
21 | bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
|
22 | mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
|
23 | Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
|
24 | om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
|
25 | Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
|
26 | want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
|
27 | Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
|
28 | Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
|
29 | So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
|
30 | 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
|
31 | en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
|
32 | Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets;
|
33 | slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
|
34 | want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
|
35 | hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.
|