| Chapter 5 |
1 | My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig,
|
2 | dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar;
|
3 | want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
|
4 | maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
|
5 | Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
|
6 | Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
|
7 | Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie.
|
8 | Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
|
9 | sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
|
10 | sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
|
11 | en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
|
12 | en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad,
|
13 | en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!
|
14 | Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.
|
15 | Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.
|
16 | Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
|
17 | Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.
|
18 | Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug --
|
19 | die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.
|
20 | Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?
|
21 | Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.
|
22 | Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
|
23 | Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
|