| Chapter 8 |
1 | Roep die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie?
|
2 | Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy,
|
3 | aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop:
|
4 | Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.
|
5 | Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan.
|
6 | Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is.
|
7 | Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel.
|
8 | Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie,
|
9 | hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het.
|
10 | Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud.
|
11 | Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
|
12 | Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg.
|
13 | Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.
|
14 | Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.
|
15 | Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;
|
16 | deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.
|
17 | k het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.
|
18 | Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.
|
19 | My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.
|
20 | Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,
|
21 | om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.
|
22 | Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.
|
23 | Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.
|
24 | Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;
|
25 | voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;
|
26 | toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.
|
27 | Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;
|
28 | toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;
|
29 | toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het --
|
30 | toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,
|
31 | en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.
|
32 | Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar.
|
33 | Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.
|
34 | Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou.
|
35 | Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE.
|
36 | Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.
|