| Chapter 39 |
1 | Kan jy prooi jag vir die leeuin? Of die honger van die jong leeus stil maak
|
2 | as hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer?
|
3 | Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel?
|
4 | Weet jy die tyd as die steenbokke lam? Neem jy dit waar as die takbokooie voortbring?
|
5 | Tel jy die maande wat hulle dragtig is? En weet jy die tyd dat hulle lam?
|
6 | Hulle buig hul krom, bring hulle kleintjies voort -- weg is hulle weë!
|
7 | Hulle kleintjies word sterk, word groot in die veld, loop weg en kom na hulle nie terug nie.
|
8 | Wie het die wilde-esel so vry laat loop? En wie het die bande van die woestyn-esel losgemaak?
|
9 | Vir hom het Ek die wildernis sy huis gemaak en die brak land sy woonplek.
|
10 | Hy lag oor die gewoel van die stad; die geskreeu van die drywer hoor hy nie.
|
11 | Die omgewing van die berge is sy weiveld; en al wat groen is, soek hy uit.
|
12 | Sal die buffel gewillig wees om jou te dien? Of sal hy vernag by jou krip?
|
13 | Kan jy die buffel aan die ploegvoor bind met sy trektou? Of sal hy die laagtes agter jou eg?
|
14 | Sal jy op hom vertrou, omdat sy krag groot is? En aan hom jou arbeid oorlaat?
|
15 | Kan jy op hom reken, dat hy jou gesaaide sal inbring en bymekaarmaak op jou dorsvloer?
|
16 | Die vlerk van die volstruis klap vrolik. Is dit 'n sagaardige vleuel en veer?
|
17 | Want sy laat haar eiers op die grond lê en hou hulle warm op die grond;
|
18 | en vergeet dat 'n voet dit kan stukkend druk en die wilde diere van die veld dit kan vertrap.
|
19 | Hard behandel sy haar kleintjies asof dit nie hare is nie; is haar moeite tevergeefs -- sy is nie bekommerd nie.
|
20 | Want God het haar die wysheid ontsê en haar geen deel gegee aan die verstand nie.
|
21 | Wanneer sy haarself in die hoogte klap, lag sy oor die perd en sy ruiter.
|
22 | Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare?
|
23 | Laat jy hom spring soos die sprinkaan? Sy trotse gesnuif is 'n verskrikking.
|
24 | Hy grawe in die laagte en is vrolik in sy krag; hy trek uit, die stryd tegemoet.
|
25 | Hy lag oor die vrees en word nie verskrik nie en draai nie om vir die swaard nie.
|
26 | Op hom rammel die pylkoker, die flikkerende spies en lans.
|
27 | Onstuimig en wild verslind hy die grond en staan nie stil as die basuin klink nie.
|
28 | By elke basuinstoot sê hy: Heag! En van ver ruik hy die oorlog, die donderroep van die leërowerstes en die oorlogsgeskreeu.
|
29 | Sweef die valk opwaarts deur jou verstand en sprei sy vlerke uit na die suide toe?
|
30 | Of vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes? [ (Job 39:31) Op die rots woon hy en vernag hy, op die rotspunt en bergvesting. ] [ (Job 39:32) Daarvandaan loer hy op voedsel, sy oë kyk in die verte. ] [ (Job 39:33) Ook slurp sy kleintjies bloed, en waar gesneuweldes lê, daar is hy. ] [ (Job 39:34) En die HERE het Job geantwoord en gesê: ] [ (Job 39:35) Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord! ] [ (Job 39:36) Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: ] [ (Job 39:37) Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. ] [ (Job 39:38) Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie. ]
|